Boekrak:Geskiedenis

Vanaf Wikibooks

‘n KULTUUR-HISTORIESE AGTERGROND VAN DIE VEEBOER GEDURENDE DIE AGTIENDE en NEGENTIENDE EEU AAN DIE KAAP

1. DIE KERKLIK-GODSDIENSTIGE LEWE

  1.1 DIE EREDIENS
        Al het die kerkorde van Dort, behalwe die hoofdiens Sondagmôres, ook ‘n tweede of  namiddagdiens voorgeskrywe, is daar gedurende die 18de eeu in die plattelandse gemeentes meestal net een diens – Sondagmôres – waargeneem.  Eers aan die begin van die 19de eeu het namiddagdienste op die platteland meer gebruiklik geword, veral gedurende die wintermaande.  Eers heelwat later is hierdie namiddagdienste op  die platteland vervang deur die huidige aandienste. 1)

Die erediens kan tereg die spil genoem word waarom die kerklike lewe draai. Alhoewel die erediens na sy inhoud sy hoofelemente, vroeër ongeveer dieselfde was as vandag, het die orde destyds heelwat anders as vandag verloop.

Kort ná die eerste gelui het die eerste kerkganger binnegekom en plaasgeneem, mans en vrouens apart – familiebanke het eers later gekom – die vrouens het op stoele heel voor in die skip van die kerk gesit en die mans op banke agter hulle.

Kort ná die tweede gelui het “mynheer de Voorleser” binnegekom en op die sg. “Voorleserstoel” links van die kansel gaan sit. Na ‘n paar oomblikke van stilte staan hy op, neem stelling in agter die sg. voorlesersknaap voor die kansel en doen die huweliks-en ander aankondigins, vervolgens neem hy die Skriflesing waar en wel uit die hooftuk waaruit die dominee weldra


1. Smit A P (ds) Gedenkboek van die Nederduitse Gereformeerde

    Gemeente Swartveld (1745-1945) p.101

sy teks vir sy preek sou neem (vandaar sy naam – Voorleser). Teen die tyd dat hy die “kapittel” deurgeworstel het, gaan die derde gelui en nou eers begin die eintlike erediens, wanneer die Voorleser die lofpsalm opgee en as “voorsinger” ook die gemeente lei. Orrels en veral pyporrels is eers later in eredienste gebruik. 1)

Die Predikant het toe reeds ‘n vaste ampsdrag gehad. ‘n Swart rok met groot knope en breë omslae en pante, kort broek, lang sykouse en skoene met silwer gespes.

Buite die kerk het dominee ‘n ronde, later driehoekige hoed, die sg. Steek gedra. Eers teen die einde van die 18de eeu het predikante ‘n mantel (voorloper van die toga) en bef begin dra. Die toga maak eers verskyning in die laaste helfte van die 19de eeu. 2)

DIE LITURGIE Onder die sing van die lofpsalm kom die predikant, vergesel van die kerkraadslede die kerk binne en bestyg die preekgestoelte. Na die gebruiklike votum en seëngroet deur die predikant volg die lees van die Wet en die Twaalf Artikels of Geloofbelydenis. Dit is ook vroeër deur die Voorleser gedoen. In dié tyd is daar nie ná die Geloofbelydenis gesing nie.

Die besondere plek wat die Voorleser sover ingeneem het, is eers later deur die predikant oorgeneem.

Die predikant lewer eers sy sg. “voorafspraak”, ‘n lang inleiding tot sy preek, met sy teksverdeling of hoofgedagtes. Dit word opgevolg deur die sing van ‘n psalm. Die gesange is eers in 1814 ingevoer. Terwyl die diaken die liefdegawes “voor Kerk en Armen” opneem – in swart fluweelsakkies wat aan die punt van

1. Smit, A.P. Ongepubliseerde lesing – Die kerklike Gebruike aan

    die Kaap in die ou dae (1967)

2. Smit-lesing.

lang stoke vasgemaak is. Aan die fluweelsakkies was ‘n sierlike kwassie of meer dikwels ‘n silwerklokkie wat klaarblyklik bedoel was om diegene wat intussen onder die lang “voorafspraak” begin insluimer het, weer wakker te maak!

Na die kollekte volg die gewone kanselgebed terwyl aan die einde daarvan weer ‘n psalm gesing word.

Daarna volg die preek wat ongeveer een en ‘n half tot twee uur geduur het. Die diens is dan afgesluit met ‘n nagebed, slotsang en seënbede.

Die geskiedskrywer Theal het die indruk gekry dat hierdie 18de eeu eredienste maar baie koud en lewensloos moes gewees het en nie juis daarop bereken was om geestelike vuur en ywer by die kerkgangers op te wek nie.1)

Dit was die eeu van die rasionalisme en koudheid op godsdienstige gebied. Die “deftige en doodsche preekwyze” van die meeste van die destydse predikante het dit ongetwyfeld in die hand gewerk. Behalwe dat die predikasies baie lank was, was die teksverdelings veelal te ingewikkeld en die voordrag te “droog” om in die smaak te val, veral van die jongmense, wat tóé reeds na meer prakties-evangeliese sielevoedsel gesmag het. Aan die begin van die 19de eeu, met die deurwerking van die “evangeliese” gees het ‘n gestadige verbetering in die preekstyl gekom. Hiertoe het manne soos ds. M.C. Vos, dr. H.R. van Lier en ander met hul prakties-evangeliese boodskappe ongetwyfeld baie bygedra. 2)

Behalwe met nabetragingsdienste wat gedurende Nagmaalnaweke gehou is, is namiddagdienste eers later ingestel. By dié geleentheid het die predikant uit die kategismus gepreek en die

1. Vgl. Theal G.McC. History of South Africa III bl. 309 by Smit 2. Swartland bl. 103 Vgl. Smit Swarland bl. 104.

jongmense en kinders moes dan die gebruiklike antwoorde op die kategismusvrae gee. Aanddienste het eers heelwat later gevolg en bidure eers in die 19de eeu.

Die Doop- en Nagmaal-sakramente is deurgans aan die einde van die diens bedien. 1)

DIE KERKSANG Nie alleen die onaantreklike preektrant nie, maar ook die kerksang van die agtiende en vroeg-negentiende eeue het daartoe bygedra dat die eredienste dikwels sonder geestelike besieling was. Die sang was in die reël baie stadig en temerig en van owerheidsweë moes die kerk selfs aangemaan word om “wat spoediger” te sing! Dwarsdeur die 18de eeu is daar natuurlik net psalms gesing en wel volgens die beryming van Petrus Dathenus. Hierdie beryming, met sy platheid van taal en onbeholpenheid van vorm, het nie juis bevredigende kerksang in die hand gewerk nie.

In 1775 is hierdie sogenaamde “kreupele beryming” van Dathenus vervang deur die beter en meer moderne “Nuwe Rympsalms”, wat die kerksang ‘n stoot vorentoe gegee het. Tot die jaar 1814 is uitsluitend psalms in ons kerk gesing. In daardie jaar word die sogenaamde Evangliese Gesange - in 1806 reeds in Holland in gebruik geneem – vir die eerste maal in ons land ingevoer en wel deur die stadskerkraad, om kort daarna deur ander plattelandse gemeentes gevolg te word. Dit het ons kerksang verder verryk en verbeter. Die gemeentlede het destyds deurgans sittende gesing. Kore was tot in die twintigerjare van die 19de eeu ‘n onbekende iets. 2)

1. Smit-lesing 2. Vgl. Smit. Swartland. bl. 104.

Kerkorrels en kerkkore was in dié tydperk onbekend. Eers 80 jaar ná Van Riebeeck kry Kaapstad sy eerste orrel (1737) en teen die einde van die 18de eeu kry Paarl sy orrel (1791) en Stellenbosch eers in 1801; Malmesbury eers in 1853; Durbanville in 1860. Die Voorleser, d.w.s. as hy kon sing, moes dus maar as voorsinger optree. 1)

DIE VOORLESER Dit is vreemd dat die voorleser, en nie die predikant nie, die Skriflesing waargeneem het en veral dat dit gedoen is voordat die predikant en die kerkraadslede teenwoordig was en die erediens begin het. Baie kerkgangers het dan ook later gewag totdat die temerige skriflesing deur die voorleser verby was voordat hul die kerk binnegekom het. Dit was baie onstigtelik. Baie stemme het dan ook teen die funksie van die voorleser opgegaan. Die voorlesertradisie was egter so diep gewortel dat die sinode eers in 1857 aanbeveel het dat die predikant en kerkraadslede teenwoordig moet wees wanneer die Skriflesing geskied, hetsy deur die voorleser of die predikant. Maar kerkrade was traag om hierin ‘n verandering aan te bring. In ‘n gemeente soos Swartland het ds. Moorrees eers in 1873 “tot meerdere stigting” die skriflesing self waargeneem.

Dit het die einde van die voorleserskap in die Ned. Geref. Kerk beteken. Die voorleser moes hul streng by die voorgeskrewe formule en die preekboek van geordende predikante hou. Onder geen omstandighede mag ‘n vrye voordrag of eie preek gelewer word nie. Toe Wijlandt dit in 1654 waag om “eenige lessen buyten syn boeck” vry voor te dra, het hy in die warm water beland. Die owerheid het hom vanuit Batavia sterk oor die kole gehaal en hom vermaan om hom binne die limiete van die “vocatie” te hou en nie verder sy sekel in ‘n ander se oesland te slaan nie!

1. Smit-lesing

Toe Van Riebeeck hom daaroor betig het, het hy voorgegee dat sy oë hom in die steek laat en hy gevolglik genoodsaak was om die voorgeskrewe preke stuk-stuk uit sy hoof te leer “om in’t lessen te min te haperen”.

By afwesigheid van die predikant moes die voorleser die erediens lei en ‘n preek voorlees, sonder aanstoot of ergenis, vaardig en Godbetamelik. Baie interessante staaltjies word vertel oor eiewillige voorlesers wat by die afwesigheid van die dominee dit gewaag het om sy eie Skrifgedeelte te kies, of selfs sy eie preek voor te dra. 1)

RANGORDE IN DIE KERK Veral in die 17de, 18de en selfs vroeë 19de eeu was die mense, veral vrouens, baie gesteld daarop dat hul sitplek in die kerk in ooreenstemming moet wees met hul rang of status in die samelewing. Die owerheid, onder wie die kerk toe nog gestaan het, het dan ook van tyd tot tyd “Ranglyste” uitgevaadig – en bewaar die arme koster as hy in die rangskikking van die sitplekke die vrouens van die vooraanstaandes die minste van hierdie “protocol” sou afwyk!

Wanneer die goewerneur die kerk binnekom, moes almal opstaan en met ‘n diepe buiging eerbied betoon. Toe arme ouderling Jan Rotterdam, wat buitendien sy mes in gehad het vir die gehate W.A. van der Stel, in 1707 op ‘n goeie dag in die Groote Kerk, Kaapstad, nie vir die goewerneur wou opstaan nie, is hy voor die Politieke Raad gedaag en uiteindelik verban.

Aan weerskante van die kansel het voor die dienende kerksraadslede ook die hoë regeringsamptenare soos die landdros en heemrade, die ereplekke ingeneem. Die sewe Kwartobybels wat De

1. Smit-lesing.

Mist in 1819 geskenk het was vir vier kerkraadslede en die landdros Cuyler en sy twee heemrade in die voorste banke weerskante van die kansel. Net agter hul het rustende kerksraadlede, oud-heemrade, ens. in rangorde plekke ingeneem.

Die stoele van die vroue voor in die skip van die kerk moes weer na die rang van hul mans gerangskik word. Byvoorbeeld die voorste ry: die predikantsvrou, met die gades van dienende kerkraadslede en hoê regeringsamptenare naas haar; daarna volg die eggenotes van rustende kerkraadslede e.a. van die oudste en aansienlikste vroue tot “onstigtelike tonele” binne-in Gods huis. Meermale het ‘n gegriefde suster haar op die landdros en selfs die Politieke Raad beroep.

Kerkrade het ‘n sug van verligting geslaak toe “het volkomen toeverzickt over de zitplaatsen der vrouwen” van hul skouers op dié van die landdros geplaas is.

Eers in 1829 het die Sinode van die Ned. Geref. Kerk besluit dat die eggenotes van rustende kerkraadslede in die vervolg “gene ranplaasen meer zullen hebben”. Maar so rangbewus was ons mense in daardie jare dat die rangorde in die kerk ‘n besonder stadige dood gesterwe het. Dit was eers in 1860 dat die gemeente Swartland bv. afgesien het van aparte vrouesitplekke in die kerk. 1)

1.2 NAGMAAL

      DIE VOORBEREIDING VIR NAGMAAL
      Ons vaders het besonder baie van die Nagmaalsfees gemaak.  In die eerste jare in en rondom Kaapstad, voordat die gemeentes

1. Smit-lesing.

baie uitgestrek was, het die dominee, vergesel van ‘n ouderling, sowat 14 dae tevore by die huise omgegaan en die kerkraadslede persoonlik uitgenooi na die Nagmaal. Daar was selfs ‘n tyd toe kerkraadslede kort voor die Nagmaal byeengekom gekom “op malkonders gedrag acht te gaan”. Op die ry af moes elke broeder uitgaan en buite wag terwyl sy medebroeders hom bespreek het. 1)

       NAGMAALNAWEKE
       Namate die kerk binnelands uitgebrei en die gemeentes meer uitgestrek geraak het, moes ons mense oor baie ver afstande met die ossewaens reis vir die kwartaallikse Nagmaal op die dorp – 15 en meer uur te perd.  Van die Donderdag af was die kerkplein met die wit watente oortrek.  Vrydag is inkopies by die winkels gedoen en Saterdagoggend was basaar.  Die namiddag is die voorbereidende diens gehou.  Maandag of self Dinsdag is die lang terugreis aanvaar. 2)  
        DIE NAGMAALTAFEL
        Hier en daar was daar arm gemeentes wat hulle aan die begin tevrede moes stel met “avondmaalgereedskap van aarde en luttel (min) waardy”.  In sommige gevalle het hulle hul selfs van ”bierglazen en spoelkom” bedien.  Die gemeentes het egter waar moontlik, ‘n silwer Nagmaalservies aangeskaf.

So bv. het landdros Cuyler al in 1817, deur Ds. Mol van Uitenhage, uit Kaapstad ‘n silwer Nagmaalservies en doopbekken bestel. Dit is uit egte Kaapse silwer vervaardig deur die beroemde Kaapse silwersmid, Johannes Combrink, en is vir baie jare gebruik totdat dit as kosbare kleinode aan gebruik onttrek is en vandag veilig bewaar word.

1. Smit-lesing. 2. Smit-lesing.

Dit was vir baie jare die gebruik dat die Nagmaalgangers – eers die mans en daarna die vroue – op uitnodiging van die bedienaar groepsgewyse uit hul banke opgestaan en by die Nagmaalstafel voor die kansel aangesit het. Sodra hul klaar bedien is en ‘n “tafeltoespraak” aangehoor het, het hul teruggegaan na hul banke, om weer deur ander gevolg te word. So is almal agtereenvolgens by die tafel bedien. Hierdie heen-en-weer stappery was bepaald baie onstigtelik veral waar die predikant by elke sitting ‘n afsonderlike tafeltoespraak moes hou. ‘n Nagmaalsdiens het in daardie tyd maklik drie uur geduur. 1)

Ds. J.R. Albertyn van Riversdal was die eerste persoon wat in 1888 daartoe oorgegaan het om die nagmaal gesamenlik en gelyktydig aan almal in die banke te laat bedien. Hierdie “nuwigheid” is deur baie predikante, onder meer ds. A.I. Steytler en dr. J.J. Kotze as onbybels en ongereformeerd beskou. By die Sinode van 1890 het daar ‘n warm debat hieroor gevolg. Alhoewel die meerderheid van die Sinode hierdie nuwigheid nie as onbybels beskou het nie, het die ou manier van bediening egter ‘n stadige dood gesterwe. 2)

Die gebruik van aparte klein Nagmaalskelkies in die Ned. Geref. Kerk dateer uit die jaar 1918 tydens die griepepidemie toe die gesondheidsafdeling van Johannesburg-stad gevra het dat die hou van Nagmaal tydelik opgeskort moes word. Dr. W Nicol van die Irenegemeente het die Nagmaalservies van die Presbiteriaanse buurgemeente vir diè geleentheid geleen. Dit het soveel byval gevind dat sonder ‘n rings- of sinodale besluit dit algemene gebruik geword het. 3) Die ou mense was ook baie lief om die Nagmaal op Paassondag en Kersdag te vier. 4)

1. Smit-lesing. 2. Smit-lesing. 3. Vgl. Meiring, Piet – My buurman se Kerk (1973) bl. 7 4. Smit-lesing.

1.3 DOOP

      BY DIE GEBOORTE
      Die Kraamvrou wat met ‘n veeboer getroud was, is soms slegs deur ‘n Hottentotvrou as vroedvrou bygestaan. 1)  

Aan die Kaap is die moeder van die pasgebore kind “gekerk”. Hierdie gebruik sluit aan by die kerkgang-gebruik was as openingsgebruik in Nederland gehandhaaf is. Die Kaapse moeder is omstreeks drie weke ná haar bevalling “gekerk”. Die handeling het bloot uit ‘n besoek aan die kerk bestaan. Tot in die agtiende eeu is hierdie gebruik aan die Kaap gehuldig. Ná die kerkgang het die moeder by haar vriende gaan besoek aflê; sy is sodoende dus weer in die samelewing opgeneem: “Aan die einde van drie weke word hulle (die kraamvroue) gekerk, soos ons sê, en dan kuier hulle oral in die nedersetting rond”.

        BY DIE DOOPVRONT
        Die doop van kinders het nie net op Sondae nie, maar ook op weeksdae, plaasgevind. 2)  

Gedurende die eerste jare, toe die kerk naby die Kaap nog binne die bereik van ons mense was, was dit gebruiklik om ‘n kind so gou moontlik ná die geboorte, d.w.s. die eerste Sondag na geboorte, ten doop te bring. Vanselfsprekend kon die moeder dan nog nie teenwoordig wees nie. Die vader het die kind self ten doop gebring en was dikwels vergesel deur een of meer van die doopgetuies of peetouers. 3)

In die oudste doopformulier staan by vraag 3 aan die ouers: “vader (moeder) en getuie”. Eers later en veral op die platteland is die doop uitgestel sodat die moeder ook teenwoordig kon wees. 4)

1. Vgl. Mentzel O.F. Description (V.R.V.) III bl. 25 en 117 by Grobbelaar

    P.W.. c.s. – Boerewysheid bl. 134.

2. Vgl. Knappert, L. Huiselijk Leven II bl. 99 by Grobbelaar a.w. bl. 139. 3. Smit-lesing. 4. Smit-lesing.

Die plattelanders kon nie altyd pas ná die geboorte hul kinders laat doop nie: “As ‘n vrou mettertyd aan ‘n kind geboorte gee, word die doop uitgestel tot lank na die bevalling; of dit kan miskien gebeur dat ‘n paar weke, maande of jare verbygaan voor die ouers kerk toe reis om die kind te laat doop; die vader tree as peetvader op en die moeder dra die kind na die doopvont”. 1)

Die boere uit die binneland wat selde dorp toe kon kom, het dus soms noodgedwonde kinders wat reeds kon loop, laat doop. In sulke gevalle het albei ouers die doopplegtigheid bygewoon. As die vader nie aanwesig was nie, het dit opspraak in die samelewing verwek. 2)

        DIE DOOPGETUIES
        Die aanwys van peetouers is natuurlik ‘n geërfde stamlandse gebruik en die Kaapse vorm stem in alle besonderhede met die Nederlandse ooreen.

Op die doopdag het die vader en peetvader saam na die kerk gestap, gevolg deur ‘n slavin wat die kindjie dra. Die peetvader het plegtig die predikant se vrae beantwoord. 3)

Die doopgetuies het as peetouers ‘n belangrike rol vervul. Gewoonlik was hulle by die doopgeleentheid teenwoordig en vandaar die benaming doopgetuies. Hul het gewoonlik nie versuim om ‘n doopgeskenk, die sg. “pillegift” (pille – peetkind) te gee nie, wat op die platteland meermale uit een of meer stuks vee bestaan het. 4)

1. Vgl. Mentzel Description III bl. 117 by Grobbelaar a.w. bl. 140. 2. Vgl. Mentzel Description III bl. 5 en 122 by Grobbelaar a.w. bl. 140. 3. Vgl. Schotel, G.D.J. Huisgezin bl. 50 en Kolb Beschrijving bl. 169 by

    Grobbelaar a.w. bl. 140.

4. Smit-lesing.

Onder die Kaapse veeboere is die tradisionele Nederlandse “pillegift” nog verder vervorm. Op haar huweliksdag het die dogter al die aanteel van haar pillegift na die nuwe opstal saamgeneem. Aan dogters is meestal verse en koeie as pillegift gegee, maar nie meer deur ‘n peetouer nie – deur haar eie vader. Hierdie Afrikaanse verskil ten opsigte van die stamlandse pillegift moet moontlik verklaar word uit die gebruik dat meisies dikwels nie gelykop met seuns ge-erf het nie. Aan ‘n seun is as geboortegeskenk dikwels ‘n perdemerrie gegee, ook deur sy vader. Seuns het vroeg behoefte aan ryperde gehad, vir hul daaglikse arbeid, die jag en die harde noodsaak van die lewe. Moontlik het die vader die pillegift gegee omdat peetvaders eenvoudig nie bekom kon word nie. 1)

Ná die middel van die agtiende eeu was die gee van geskenke by ‘n geboorte (of die doop) nie meer ‘n algemene gebruik aan die Kaap nie – “ook word nie altyd van die peetouers verwag om pillegiften te gee nie, en die moeder kry geen geskenke na die bevalling nie”. Moontlik het die tradisioneel groot huisgesinne asook ander ekonomiese redes hierdie gebruik laat verval. 2) Op die platteland was daar geen doopmale nie. Tussen die jare 1705 en 1713 toe Kolb aan die Kaap was, het hy geen doopmale onder die Kapenaars waargeneem nie. “Men weet hier van kindernoch doopmalen en de ouders sijn, door zulke omstandighede, niet tot het maken van werkelijke onkonsten genoodzaakt”. Kolb noem ekonomiese redes vir die afwesigheid van die gebruik aan die Kaap. Hierdie erfsede sou egter nie daarom alleen verdwyn het nie, hoewel ekonomiese oorwegings dikwels ‘n vername aanleiding tot verval is. Kolb het waarskynlik aan die bevolking op die platteland gedink; onder hierdie koloniste is die doopfees heel verstaanbaar nie in stand gehou nie. Dit was net prakties onmoontlik weens die afgesonderde woontoestande. 3)

1. Vgl. Mentzel Description III bl. 112 by Grobbelaar a.w. bl. 141. 2. Vgl. Mentzel Description III bl. 121 – 122 by Grobbelaar a.w. bl. 141. 3. Vgl. Kolb Beschrijving bl. 271 by Grobbelaar a.w. bl. 143.

Uit die ou doopregisters blyk die volgende Interessante Gebruike: (a) ‘n Groot getal doopgetuies (sewe en selfs meer). (b) Die vaste patroon wat gevolg is met die gee van die familiename. (c) ‘n Ander opvallende feit is dat die datum van die doop in die oudste doopregisters aangegee word, maar nie die geboortedatum nie. Dit was eers nadat De Mist in sy Kerkorde van 1804 dit vereis het, wat die geboortedatum ingeskrywe is. 1)

1.4 DIE HUWELIK

      DIE HUBARE LEEFTYD
      In die Kaapse samelewing het die meeste pare op besonder jeugdige leeftyd getrou.   Dit blyk uit gegewens in die huweliksregisters in die Kaapse Argief.  Nie alleen die tradisionele Nederlandse gebruik was hiervoor verantwoordelik nie.  Dit is waarskynlik bevorder deur die oorwig van mans; die paar meisies wat die Kaap bereik het, is spoedig in die eg verbind. 2) 

Jong pare kon maklik selfstandig begin boer, en die pionierslewe het tot vroeë rypheid gelei. Vir die boere moes kinderrypheid ook van ekonomiese betekenis gewees het, aangesien die werkkrag van kinders veel goedkoper as dié van knegte en slawe was. 3)

DIE VERLOWING Die verlowingsgebruike wat in hierdie tyd in Nederland gegeld het, was verstaanbaar ook meestal op die kolonies van toepassing: “In die kolonien volgde men zoo goed mogelijk de

1. Smit-lesing. 2. Vgl. Grobbelaar a.w. bl. 147. 3. Vgl. Hattingh, S.C. Minnespel bl. 13 by Grobbelaar a.w. bl. 147.

gewoonten van het moederland. Zoo vertelt een Zweedsch reisiger ons van de Kaap a. 1773, dat geen kolonist mocht huwen zonder goedkeuring van den gouverneur, dat hij het verzoek kon indien en des Donderdags, dat daarop des Zaterdags aan het paar een orden wordt gegeven voor de Raad, die de verboden graden onderzoekt, waarna de gouverneur beveelt de geboden afte kondigen”. 1)

In Desember 1676 is egter ‘n huwelikshof onder toesig van die Politieke Raad ingestel om hierdie taak te onderneem. 2)

Die Huwelikshof moes elke Saterdag vergader en die volgende vrae aan die paartjies stel: hoe oud hulle is; of hulle ouers nog lewe; of hulle hul ouers se toestemming het; of hulle nie verwante van mekaar is nie ( om te waak teen bloedskande); en of hulle vry is om te trou. Niggies en Neefs wat in die huwelik wou tree, moes byvoorbeeld spesiaal die Huwelikshof se toestemming verkry. Daar is verder seker gemaak dat die ouers van albei wel toestemming gee indien hulle nog onmondig was, en dit was gewoonlik die geval omdat mondigwording destyds eers op die ouderdom van vyf-en-twintig jaar plaasgevind het. 3)

Nadat alles deur die Huwelikshof in orde bevind was, kon die paartjie amptelik verloof raak, en dit is – soos in Nederland – die ondertrouw genoem.4)

Hierdie gebruik was ‘n kontrak tussen die man en die vrou, volgens die Romeins-Hollandse reg, en dit was wetlik bindend. Teen die einde van die Nederlandse Tydperk in Suid-Afrika het die ondertrouw verval. 5)

‘n Onderdeel van die agtiende-eeuse Nederlandse huweliksfees was die commissarismaal, wat ‘n soort inleiding tot die eintlike 1. Vgl. De Coning, J A Hofmakery, Bl. 16 by Grobbelaar a.w. bl. 147 2. Vgl. Grove, C J Karoobruilof, bl. 15 by Grobbelaar a.w. bl. 147 3. Vgl. Grobbelaar a.w. bl. 147 4. Vgl. Grobbelaar a.w. bl. 148 5. Vgl. Grobbelaar a.w. bl. 148

huweliksfees gevorm het. Die commissarismaal is só genoem omdat dit gewoonlik gehou is op die aand van die dag waarop die paartjie voor die huwelikskommissarisse verskyn en toestemming tot die huwelik verkry het. Dit is dus op ‘n Saterdagaand gevier. 1)

In die algemeen was die verlowing onder die boere op die platteland egter iets informeels, omdat dit nog geensins as deel van die werklike huwelik beskou is nie. Geen gelukwensinge is gevolglik deur die ouers verwag nie. ‘n Verlowing is ook eers erken nadat die eerste huweliksgebod in die kerk afgelees was, want dan het die gemeente geweet dat albei ouerpare hul toestemming tot die voorgenome huwelik gegee het, en dat dit ook deur die Kaapse Huwelikshof goedgekeur is. Dan kon vriende miskien na die bruid se ouerhuis gaan om die aanstaande egpaar geluk te wens. 2)

DIE HUWELIKSGEBOOIE Die huweliksgebooie het drie Sondae na mekaar in die kerk “geloop”. Maar, anders as in Nederland, moes ‘n huwelik ook by die naaste drosdy aangemeld word. 3)

DIE HUWELIKSBEVESTIGING Die huweliksbevestiging aan die Kaap het gewoonlik Sondae na die oggenddiens in die kerk plaasgevind. Daar was dikwels meer as een paartjie, en hulle is dan opgeroep om voor die kansel te verskyn. Nadat die predikant die formulier gelees het, het die bruidegom en bruid mekaar se regterhande gevat en die huweliksbelofte afgelê, waarna die predikant die seën oor hulle uitgespreek het. Hiermee was die plegtigheid afgeloop, want die huweliksregister is eers van die dertigerjare van die negentiende eeu af geteken. Ná die predikant se seën, het die paartjies weer hul plekke in die kerk ingeneem en gewag dat die diens beëindig word. 4)

1. Vgl. Grobbelaar a.w. bl. 149 2. Vgl. Grobbelaar a.w. bl. 150 3. Vgl. Grobbelaar a.w. bl. 151 4. Vgl. Grobbelaar a.w. bl. 152

Kolb vermeld dat die trouplegtigheid op die dag van die derde gebod plaasgevind het. Ook Mentzel het opgemerk dat huwelike op die derde Sondag van die huweliksgebooie voltrek is. Hy vermeld dat die paar in die namiddag getroud is, nadat die derde en laaste gebod by die oggendgodsdiens afgekondig is. 1)

DIE HUWELIKSOPTOG Op die platteland het ‘n verloofde paar omstreeks die jaar 1735 toe Mentzel aan die Kaap was, op ‘n halftoe ossewa (tentwa) kerk toe gery. ‘n Touleier en drywer het hulle vergesel. 2) Die beskrywing geld heel waarskynlik vir ‘n huwelik in die buitewyke van Stellenbosch waar Mentzel ‘n ruk vertoef het.

Sommige plattelandse bruidspare het dus op ossewaens gery, terwyl meer gegoedes agt perdewaens gebruik het. 3) In sulke gevalle was daar nie meer van ‘n huweliksoptog sprake nie, aangesien die rit om by die predikant op die dorp te kom, bloot ‘n praktiese noodsaaklikheid was. 4)

VERSIERING Die reisiger Mentzel het ‘n beskrywing van ‘n Kaapse bruidskroon nagelaat. Hy skryf dat dit sonder veel moeite gevleg is, en waar die tradisionele mirte- en palmblare aan die Kaap onverkrygbaar was, is die takke van enige wilde immergroen plant en “zevejaars”-blommetjies vir dié doel gebruik. 5) Graham Botha skryf dat die bruidskamer aan die Kaap met blomme versier is. Bokant die roosmaryn van die bruidskamer is groen takkies mirte, lourier of roosmaryn gehang; in hierdie takke is papier- en kunsblomme ingevleg. 6)

1. Vgl. De Coning. Hofmakery bl. 18 by Grobbelaar a.w. bl. 151-2 2. Vgl. Hattingh. Koesinte bl. 13 by Grobbelaar a.w. bl. 153 3. Vgl. Hattingh. Verloof bl. 18 by Grobbelaar a.w. bl 153 4. Vgl. Hattingh. Verloof bl. 13 by Grobbelaar a.w. bl. 153 5. Vgl. Grobbelaar a.w. bl. 154 6. Vgl. Spoelstra, B: Volkslewe bl. 41. Schultz. Opsitkers bl. 12; by

    Grobbelaar a.w. bl. 154

By ‘n plattelandse bruilof aan die Kaap is daar gekleurde linte as versiering aangewend. Die drywer van die bruidswa se hoed en sweep is met linte opgetooi. Soms is linte aan die osse se horings vasgebind. 1)

HUWELIKSFEES In die agtiende eeu het die huweliksfees aan die Kaap op die aand van die huwelik, ‘n Sondagaand, by die bruid se ouerhuis plaasgevind, presies soos die gebruik in die stamland was. In die algemeen was die Kaapse samelewing aan die begin van die agtiende eeu welvarend, met die gevolg dat bruilofte op taamlik groot feestelike skaal kon plaasvind. Die rykdom en stand van die bruid se vader het die aard van die huweliksfees bepaal. 2)

Aan die Kaap het die strooipaar die bruid en bruidegom op baie maniere bygestaan. Hulle het byvoorbeeld die kranse en die skild gemaak en die bruid se ouerhuis versier. Teen eenuur op die huweliksnag het die bruid se vriendinne haar gehelp ontklee. Onder die veeboere, so vermeld Mentzel, het vriende die nuwe egpaar gehelp om ‘n eie huis te bou, aangesien geen slawe op dié voorposte beskikbaar was nie. Die veeboere het op dié manier ‘n ou Nederlandse gebruik van gemeenskapshulp bly handhaaf. 3)

Aan die Kaap het ook ‘n openingsgebruik bestaan. Die oggend na die huweliksnag het bure en vriende gekom om die pasgetroude paar geluk te wens. Vervolgens is ‘n maaltyd aan hierdie gaste voorgesit. Daar is soms selfs weer gedans soos die vorige aand, en daarna is die egpaar as lede van die kring van getroudes aanvaar. 4)

HUWELIKSGESKENKE Onder die Kaapse veeboere is die oorgeërfde vaderlandse vorm van die bruidskat vervorm sodat dit ook op die bruidegom van toepassing was. Die vader het by sy huwelik aan sy seun ‘n geskenk

1. Vgl. Heese, J:A: Worcester bl. 32 by Grobbelaar a.w. bl. 154 2. Vgl. Grobbelaar a.w. bl. 156 3. Vgl. Grobbelaar a.w. bl. 159 4. Vgl. Hattingh S:C: Onder die vierkleur bl. 19 by Grobbelaar a.w. bl. 158 18 gegee: “As daar geen beswaar gemaak is nie (dit wil sê deur die Huwelikshof) en die huwelik dus gereël was, het die bruidegom se vader soveel tot die huwelik bygedra as wat in sy vermoë was. ‘n Span van ses, agt of tien osse en ‘n wa was ‘n belangrike geskenk”. Hierdeur het die vader sy seun dus in staat gestel om sy eie boerdery op die voorposte te begin. Die veeboer-vader het ook aan sy dogter op gebruiklike wyse ‘n bruidskat in die ware sin van die woord gegee. Aanteelvee, wat hoofsaaklik uit verse en koeie bestaan het, is by haar huwelik aan ‘n dogter geskenk. So ‘n bruidskat kon uit ‘n honderd skape en ‘n paar ramme bestaan. Dié soort bruidskat was ‘n kenmerkende, eiesoortige gebruik net by die veeboere. 1)

1.5 BEGRAFNISSE

      Op die afgeleë platteland was daar nie sprake van besondere formaliteite by sterfgevalle nie.  Die predikant of landdros moes net dadelik van ‘n sterfgeval verwittig word.  2) 

DIE BEGRAFNISBRIEFIE Dit was gebruiklik dat die koster – netjies uitgevat met steekhoed, kort broek en lang sykouse, swart manel en lae skoene met silwer gespes – met die begrafnisbriefie van huis tot huis gaan om “u edele en zoons” na die plegtigheid uit te nooi. Slegs manspersone het destyds die teraardebestellings bygewoon. Vroue het wel later die lykdiens in die kerk bygewoon, maar nie “agter lyk” gegaan nie. 3)

ROU- EN KLEREDRAG Slegs swart klere was destyds betaamlik vir begrafnisse. Swart lanfers het van die draers se pluiskeile tot op hul heupe gehang, terwyl elkeen swart handskoene gedra het. 4)

1. Vgl. Grove. Karoobruilof bl. 15 by Grobbelaar a.w. bl. 158 2. Mentzel Description III bl. 120 by Grobbelaar a.w. bl. 164 3. Smit-lesing 4. Smit-lesing.

Swart, asook wit, is in dié tyd as roukleure aan die Kaap gedra – net soos in die stamlande. 1)

Aan die Kaap in die agtiende eeu het geen vasgestelde routyd bestaan nie. In sommige gevalle is die routyd nogtans op ‘n jaar vasgestel. Vir die eerste ses maande is daar “swaar” gerou, daarna is “ligte” rougewaad aangetrek. Nege maande ná die dood van haar man kon ‘n Kaapse weduwee hertrou. ‘n Kind se huwelik is gewoonlik tot ses maande ná die dood van ‘n ouer uitgestel.2)

Die doodkis was gehul in ‘n eenvoudige swart lakenkleed, sonder ‘n enkele blomkrans. Blomkranse is ‘n Engelse gebruik wat eers later in gebruik gekom het. 3)

BEGRAFNISDIENS EN TERAARDEBESTELLING In die sewentiende eeu is die Nederlandse hoëlui in die aand begrawe. 4) Ook aan die Kaap – tot die helfte van die agtiende eeu – het begrafnisse soms nog in die aand plaasgevind. Fakkels is deur mense in die stoet gedra, maar omdat die gebruik brandgevaar vir die Kaapstadse grasdakhuise ingehou het, is dit deur die owerheid verbied. 5) Hier is die oorgeërfde gebruik dus weens landsomstandighede gewysig. Voortaan moes alle begrafnisse gedurende die dag plaasvind. Lykdienste was vroeër nie gebruiklik nie. 6)

Aan die Kaap was daar maar min seremonies by die graf. Bowendien was predikante skaars. Die lang Nederlandse lykrede aan die Kaap het ook verval. Nadat die kis in die graf neergelaat was, het die omstanders volgens die ou gebruik ‘n paar handevol grond daarop gegooi (die stof wat tot stof wederkeer, volgens die Christelike geloof), en dan het die grafgrawer die graf opgevul. 7) 1. Grobbelaar Swartland bl. 165 2. Mentzel Description II bl. 123 Grobbelaar a.w. bl. 18 3. Smit-lesing 4. Vgl. Hofdijk, W.J. Voorgeslacht bl. 189 by Grobbelaar a.w. bl.171 5. Vgl. Botha C.G. Social Life bl. 66 by Grobbelaar a.w. bl. 171 6. Smit a.w. 7. De Kock: Die Huisgenoot 5.11.37 bl. 23 by Grobbelaar a.w. bl. 176: en

    Botha Social Life bl. 104

Die Kaapse plaasbegrafnisse was nóg armer aan seremonies. Meestal is boere deur familiebetrekkinge begrawe, gewoonlik omdat die dienste van predikante nie verkrygaar was nie. Mentzel skryf soos volg oor toestande op die platteland omstreeks 1745. “Die oorledene word, indien die mense nie te ver van die kerk af woon nie, na Kaapstad gebring en begrawe, of na Stellenbosch, Drakenstein of Swellendam. Diegene wat egter op verafgeleë plekke gesterf het, word op hul plase begrawe. Die grafte moet diep genoeg gegrawe wees en word met groot klippe bedek. Op die platteland is die begrafnisgebruike en –seremonies net so min in die mode as swaar en ligte rou”. Die diep grafte en klippe was natuurlik bedoel om aasdiere weg te hou. 1)

DIE DRAERS Draers het gewoonlik ‘n half-uur voor die tyd by die sterfhuis byeengekom. Daar het hulle hul lanfers en swart handskoene, asook ‘n muntstuk as vergoeding ontvang, terwyl hul boonop op wyn en koek getrakteer is. 2)

RANGORDE IN DIE LYKSTOET In die opstel van die lykstoet moes sorg gedra word dat, veral die rouklaers, volgens hul rang en status in die samelewing geplaas word. 3)

ROUKLAERS In daardie dae is mense spesiaal gehuur om by ‘n begrafnis rou te bedryf. Van hulle is verwag om openlik soveel verdriet as moontlik te toon. Daar was twee soorte rouklaers: “Die Huilebalken” en die “Tropsluiters”. Laasgenoemde het gewoonlik paarsgewyse die agterhoede van die stoet uitgemaak. Omdat daar ‘n bygeloof was dat die persoon wat heel agter in die stoet loop die eerste sou sterf, het die tropsluiters gedurig plekke verwissel om sodoende die risiko sover moontlik te verminder. 4) 1. Mentzel: Description III bl. 117 – 118 by Grobbelaar a.w. bl. 176 2. Smit-lesing 3. Smit-lesing 4. Smit-lesing

BEGRAAFPLAAS Die oudste dode-akkers was binne die ringmuur van die kerk (vandaar kerkhof). Daar was ‘n tyd dat lyke selfs binne-in die kerk begrawe is. 1)

Verder was dit ‘n algemene gebruik aan die Kaap, in die sewentiende eeu, veral, om lyke so naby as moontlik aan die kerk te begrawe ten einde te verseker dat hulle veilig (teen die bose) sou wees, en dat hulle siele rus sou vind, omdat die lyke op geheiligde grond (kerkgrond) ter aarde bestel is. Die algemene gedagtegang aan die Kaap in dié verband vertoon groot ooreenkoms met die Nederlandse van dieselfde tykperk. 2)

Aan die voet van Tafelberg is ‘n begraafplaas afgesonder waar boere begrawe is. Hier naby het die koster se huis gestaan. Reeds in die sewentiende eeu is ‘n aparte kerkhof vir matrose, soldate en vreemdelinge wat aan die Kaap gesterf het, aangelê. Die begraafplaas het as die vreemdelinge-begraafplaas of matrosen kerhof bekend gestaan. Vroeg in die agtiende eeu besluit die Politieke Raad om ‘n nuwe matrosen kerkhof aan te lê en die oue tot niet te maak omdat dit te midde-in die groeiende dorp geleë was. As gevolg van die pokke-epidemie van 1755, moes ‘n volgende begraafplaas aan die huidige Grafstaat – vandaar die naam – aangelê word. Ook private grafkelders word deur gegoede burgers weg van die kerk opgerig. ‘n Grafkelder is byvoorbeeld by Saasveld in Kloofstraat, Kaapstad aangelê omdat die kerkhof van die kerk oorvol was. 3)

GRAFSTENE EN GRAFTE Die vaderlandse gebruik om grafstene op te rig, is dus aan die Kaap gehandhaaf. Ook is rouborde in die kerk aangebring, ensovoorts. Op die grafsteen verskyn gewoonlik die naam, stand, geboorte- en sterfdatum, die lewenswerk, die familiewapen, en aan die kante allerlei versierings in die modestyle van die tyd. Die meeste ou 1. Smit – lesing 2. Botha: Social Life bl. 20 by Grobbelaar a.w. bl. 172. 3. Leibrandt H.C.V. Rambles bl. 151 by Grobbelaar a.w. bl. 174.

Grafskrifte is egter verlore. Ons kan tog aanneem dat hulle ooreenkoms met die tydgenootlike stamlandse vorms vertoon het. Plaasgrafte was – soos ons gesien het – uiters eenvoudig, bloot met ‘n paar klippe bedek om die hyenas en ander aasdiere weg te hou. Uit praktiese oorwegings is dus ‘n nuwe gebruik geskep. 1)

DIE BEGRAFNISMAAL Tot vandag toe staan geelrys met rosyntjies bekend as begrafnisrys. Dit herinner aan die tyd toe daar ná afloop van die begrafnis ‘n weelderige begrafnismaal aan die sterfhuis gegee is. By sulke geleenthede is die begrafnisganger ryklik getrakteer op die smaaklikste kossoorte, geregte, om nie te praat van die beste wyne nie! Veral die vooraanstaandes het met mekaar gewedywer, sodat die owerheid in 1753 met praalwette moes ingryp om paal en perk aan hierdie duur en swierige begrafnisse te stel. 2)

1.6 DIE BYBEL EN ANDER GODSDIENSTIE BOEKE

      Al was boeke skaars op die platteland en al het die boere nie gelees nie – het nagenoeg elke familie ten minste ‘n Bybel besit.  In 1820 skrywe Mary Moffat, die vrou van die beroemde sendeling, uit Beaufort Wes aan haar ouers:  “I  think I never saw so many finelooking Bibles in my life as since I came to Africa.  They seem to have a particular pride in them”. 3)   Naas die massiewe Statebybel, wat met die grootste sorg opgepas is, kon daar in die meeste huise ook die gesange van Willem Sluiter, die Heidelbergse Kategismus en die kortbegrip van Helmbroek aangetref word.  Sommige families het ook nog een of ander predikasieboek besit.  Die bekendste hiervan was die “Donderslag der Goddelozen”.

1. Leibrandt. H.C.V. Rambles bl. 182 by Grobbelaar a.w. bl. 181. 2. Smit-lesing. 3. Moffat: The Lives of Robert and Mary Moffat, p.74 by van der Merwe

    a.w. p. 247.

1.7 KERSFEES EN NUWEJAAR

      “The colonists do not keep Christmas but everyone goes about his business as usual, but New Year’s day is thus far kept as a holiday that on this day neighbours visit each other" 4)